Suid-Afrika-Wet

Die Hertog van Connaught ry per koets deur Adderleystraat in Kaapstad by geleentheid van die opening van die eerste sitting van Suid-Afrika se Unie-parlement.
Die provinsies van Suid-Afrika van 1910 tot 1994.

Die Suid-Afrika-Wet is die wet waardeur die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het en het bepaal dat die eenwording van die vier Britse kolonies in Suid-Afrika moes plaasvind binne 'n jaar na die aanname van die wet in 1909.

Dit het gevolg op die Nasionale Konvensie van 1908 tot 1909 waar verteenwoordigers van die Kaap en Natal en die voormalige Boere-republieke die wetsontwerp opgestel het wat die land tot 'n selfregerende dominium binne die Britse Statebond sou verenig.

Dit het beteken die Kaapkolonie, Natal, Transvaal en Oranjerivier-kolonie sou van 'n bepaalde dag in 1910 af nie meer elk 'n eie regering hê nie, maar sou geregeer word deur die regering en parlement van die nuwe, verenigde staat, die Unie van Suid-Afrika. Die Britse koning sou 'n dag afkondig waarop hierdie verandering in Suid-Afrika sou plaasvind. Die dag was 31 Mei 1910, tot op die dag agt jaar ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging en uiteindelik ook presies 51 jaar voor republiekwording in 1961.

Aan die begin kon daar geen volledige Unie-parlement wees nie omdat dit onmoontlik was om Unie-Volksraadslede te kies voordat daar 'n regering was op wie se aanbeveling die goewerneur-generaal 'n verkiesing kon uitskryf. Daarom moes daar eers 'n regering in die lewe geroep word wat die reëlings vir 'n verkiesing kon tref en wat die goewerneur-generaal kon versoek om 'n verkiesing uit te skryf.

Dit was wel moontlik om 'n regering te hê voordat daar 'n verkiesing was omdat die Suid-Afrika-Wet aan die goewerneur-generaal die mag gegee het om persone as ministers te benoem al was hulle nog nie lid van die Unie-Volksraad of die Senaat nie. Dit was ook nie vir sulke persone nodig om binne drie maande lid van die Volksraad of Senaat te word soos die Grondwet later sou vereis nie, want hierdie bepaling het eers ná die eerste algemene verkiesing van krag geword.

Veertien dae voordat die Unie tot stand sou kom, het lord Gladstone, die eerste goewerneur-generaal, in Tafelbaai aangekom, waar hy verwelkom is deur die vier laaste eerste ministers van die vier kolonies. Twee dae later het sy eksellensie genl. Louis Botha versoek om 'n kabinet saam te stel. Hierdie kabinet sou optree as voorlopige regering vir die Unie totdat 'n algemene verkiesing plaasvind. Die regering moes feitlik onmiddellik na lord Gladstone se aankoms gevorm word, want daar was baie belangrike konstitusionele en administratiewe aangeleenthede wat voor 31 Mei deur die nuwe regering gereël moes word.

Ná samesprekinge met verskeie mense in Suid-Afrika en ná sorgvuldige oorweging het die goewerneur-generaal se keuse op Botha geval en so het hy in Mei 1910 opgehou om eerste minister van Transvaal te wees en eerste minister van die Unie van Suid-Afrika geword.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search